So help ons

Ons gee jou woorde 'n kans

books-feature-BYBELSTUDIE-BOEKE boeke-feature-GEESTELIKE-BOEKE-AFR boeke-feature-small-ander-afr boeke-feature-KINDER-BOEKE-AFRboeke-feature-small-akademia-afr

Dienste

Biblaridion BK (2001/055851/23) is in September 2001 gestig. Biblaridion is geregistreer as ’n uitgewer en help outeurs wat hulle boeke graag self wil publiseer. Hiervoor kan daar verskeie redes wees. Biblaridion het veral respek vir en neem die passie in ag wat ’n outeur vir ’n saak of ’n onderwerp het.
 
Die diens wat Biblaridion aan outeurs lewer behels kortliks die volgende:
 
Biblaridion voorsien vir elke titel ’n ISBN nommer en ’n strepieskode. ISBN is die afkorting vir internasionale standaard boeknommer en dit bestaan uit ’n tien- of dertien syferkode wat voor publikasie aan elke titel toegeken word wat die besonderhede oor die taal, oorsprong en uitgewer insluit. Die strepieskode is ’n digitale kode wat al die inligting van die titel bevat. Enige boekwinkel kan dit skandeer. Dit stel die outeur in staat om die bestaande mark te betree.
 
Biblaridion bemark nie die outeur se publikasie nie, maar plaas dit wel op www.biblaridion.co.za as ’n vertoonvenster van die outeur se werk met die outeur se kontakgegewens.
 
Biblaridion stuur namens die outeur vier eksemplare van die publikasie na die Nasionale Biblioteek in Pretoria, asook die biblioteke in Kaapstad, Bloemfontein (Mangaung) en Pietermaritzburg (Msunduzi). So word kosbare inhoud vir volgende geslagte bewaar.
 
Biblaridion beskik oor ’n span professionele medewerkers wat elkeen sy / haar unieke bydrae tot elke titel lewer – die outeur kan van enige of al die medewerkers se dienste gebruik maak: ’n fotograaf wat ’n foto(s) kan neem vir die buiteblad, ’n illustreerder wat vir die buiteblad en of vir die teks illustrasies kan doen, ’n grafiese kunstenaar wat die buiteblad voorberei vir die drukproses, ’n proefleser wat die teks deurlees, ’n rekenaarvaardige wat die teks uitlê en vir die uiteindelike druk voorberei en ’n projek koördineerder wat die outeur voortdurend op hoogte hou van die vordering van die proses. Die outeur is die hele tyd tot en met die druk van die proefkopie deel van die proses.
 
Biblaridion sit die koste per titel op grond van die outeur se behoefte volledig in ’n kwotasie uiteen. Die minimum bestelling van eksemplare per titel is 100. Dit maak dit bekostigbaar vir die outeur. Sodra die eerste 100 eksemplare verkoop is, kan die outeur ’n volgende oplaag bestel. Pryse onderhewig aan die prys van die papier.
 Biblaridion se medewerkerspan gee deur hulle professionele dienste die outeur se boek ’n kans sodat die outeur sy / haar publikasie met trots kan bemark. Hierin speel die outeur ook ’n groot rol deur die finale verantwoordelikheid vir die korrektheid van die teks te aanvaar.
 
Biblaridion maak gebruik van die betroubare en deeglike dienste van ’n drukker in die Kaap. Drukwerk kan in wit en swart of in volkleur, in sagte band (perfect bind) of harde band (case bound) wees, gekram (saddle stitch) of met “wiro binding”.
 
Biblaridion gaan vir elke titel ’n geskrewe ooreenkoms met die outeur en die betrokke medewerkers aan waarin alle regsaspekte uitgeklaar en vasgemaak word.